PRAAT SAAM

Ná meer as 17 jaar sonder een, het ’n 40-jarige man in April vanjaar in die Tygerberg-hospitaal met ’n nuwe penis wakker geword. Hy was so desperaat dat hy bereid was om ’n penis van ’n man van ’n ander rasgroep te aanvaar.

Die penis as mediese mylpaal

 

Deur Elsabé Brits |  22 Mei 2017

Hooffoto: Universiteit Stellenbosch, 2015

Op 21 April vanjaar het prof. André van der Merwe, die uroloog, en sy span van die Universiteit Stellenbosch (US), Suid-Afrika se tweede penisoorplanting by die Tygerberg-hospitaal gedoen.

“Dit is ’n enorme stap vir naasbestaandes om iemand se genitalieë te skenk,” het Van der Merwe Maandag op ’n nuuskonferensie gesê.

Die skenker was ’n 29-jarige wit man en die ontvanger ’n 40-jarige swart man wat die grootste deel van sy penis weens ’n tradisionele besnydenis verloor het.

Die ontvanger, wie se naam om etiese redes nie genoem word nie, is al vier jaar lank ’n pasiënt van die span.

Die aand van die operasie het Van der Merwe vir die laaste keer vir die ontvanger gevra of hy die skenkerpenis wil hê.

Sy antwoord was: “Ek sal hom vat, Dokter.”

Die man was al so depressief dat hy voorheen probeer het om sy eie lewe te neem – soos baie ander in dié posisie.

Dr. Nicola Barsdorf, hoof van gesondheidsnavorsingsetiek aan die US, sê daar sal altyd ’n kleurverskil in die vel wees – selfs as die skenker en ontvanger mense van dieselfde ras is.

“Die ontvanger het totale vryheid van keuse gehad en het ingeligte toestemming gegee ná ’n uitgebreide sielkundige proses,” sê sy.

Die operasie het nege en ’n half uur geduur en die span dokters het deurgedruk sonder om ’n pouse te neem.

Om die kleurverskil te oorkom, sal die ontvanger oor ses of agt maande mediese tatoeëring ondergaan.

Prof. André van der Merwe, hoof van die Universiteit Stellenbosch (US) se urologie-eenheid, dr. Nicola Barsdorf (links) hoof van Gesondheidsnavorsingsetiek en dr. Zamira Keyser, oorplantings- en traumachirurg by Tygerberg-hospitaal. Foto: Le Roux Schoeman

Mikrodermale pigmentasie word tans gebruik om die voorkoms van individue met medies verwante onvolmaakthede te verbeter. Die bekendste toepassing hiervan is waarskynlik tepel- en areola-rekonstruksie ná ’n mastektomie. Dit moet gedoen word deur ʼn tatoeëerkunstenaar wat in mediese tatoeëring spesialiseer.

Die grootste uitdaging vir die studie is steeds orgaanskenking.

“Ek dink die gebrek aan penisoorplantings sedert ons die eerste een in 2014 gedoen het, is grootliks die gevolg van ’n tekort aan skenkers. Dit is dalk makliker om ’n orgaan (soos ’n nier) te skenk wat ’n mens nie kan sien nie, as iets soos ’n hand of ’n penis,” sê Van der Merwe.

Dit is ’n komplekse prosedure bekend as ’n saamgestelde weefseloorplanting, waar verskillende soorte weefsel (senuwees, bloedvate, spiere, ens.) van die ontvanger- en die skenkerorgaan oorkruis verbind word. Die chirurge het drie bloedvate (van tussen 1 mm en 2 mm in omtrek) geheg om voldoende bloedtoevoer na die oorgeplante orgaan te verseker, twee dorsale senuwees (ook tussen 1 mm en 2 mm in omtrek) om gevoel te herstel, die uretra wat die pasiënt in staat stel om deur die penis te urineer, asook die corpus cavernosum (die hoofdeel van die penis), wat die pasiënt in staat stel om ’n ereksie te kry.

Dr. Alexander Zühlke, plastiese en rekonstruktiewe chirurg wat by die oorplanting betrokke was, sê die diverse aard van die bloedvate en senuwees maak die operasie baie uitdagend en beteken elke geval is uniek.

“Al dié strukture moet met die grootste delikaatheid en respek hanteer word om volmaak verbind te word en uiteindelik goeie sirkulasie en funksionering op lang termyn te verseker.”

Mikrochirurgie is gebruik om die klein bloedvate en senuwees te verbind. Die pasiënt het sedertdien teruggekom vir ʼn klein prosedure sodat ʼn stukkie dooie weefsel aan die kante van die vel verwyder kon word.

Die span het uit drs. Van der Merwe en Zühlke van die US se afdeling van plastiese en rekonstruktiewe chirurgie, prof. Rafique Moosa van die US se departement van geneeskunde, asook drs. Amir Zarrabi en Zamira Keyser, oorplantings- en traumachirurge van die Tygerberg-hospitaal bestaan. Hulle is deur oorplantingskoördineerders, narkotiseurs, teaterverpleegkundiges, ’n sielkundige, ’n etikus en ander ondersteuningspersoneel bygestaan.

Dr. André van der Merwe, hoof van die Universiteit Stellenbosch (US) se urologie-eenheid (regs) kyk aandagtig toe by die perskonferensie waar hy en sy span Maandag aan die wêreld bekendgemaak het dat hulle 'n tweede suksesvolle penis-oorplanting uitgevoer het. Foto: Le Roux Schoeman

Maar hoe het ’n span onder leiding van ’n 47-jarige dokter wat in Sutherland gebore en getoë is, hier beland:

 

  • Aan die voorpunt van mediese vooruitgang
  • Op die mespunt van etiese besluitneming en
  • In die kollig van die wêreldmedia

 

Dit begin met teëspoed. Die soort teëspoed wat meer mans tref in Suid-Afrika as elders ter wêreld: ’n Tradisionele besnydenis wat skeefloop.

“Alhoewel daar geen amptelike rekord is van die getal penisamputasies per jaar weens tradisionele besnydenisse nie, het een studie bevind daar is in die Oos-Kaap soveel as 55 gevalle per jaar en kenners meen dat daar soveel as 250 amputasies per jaar landwyd kan voorkom,” luidens ’n verklaring van die US se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe in Maart 2015.

Een so geval was deurslaggewend in aanloop tot die wêreld se eerste suksesvolle penisoorplanting in Desember 2014.

’n 18-jarige man se penis het gangreen ontwikkel ná ’n tradisionele besnydenis en moes geamputeer word.  “Vir ʼn jong man van 18 of 19 jaar kan die verlies van sy penis baie traumaties wees. Hy het nie noodwendig die sielkundige vermoë om dit te verwerk nie,” het Van der Merwe ná die eerste oorplanting verduidelik. “Daar is selfs berigte van selfdood onder hierdie jong mans.”

 

Taboe rondom penisskenking

 

Maar vraag en aanbod was ’n enorme probleem in die pioniersveld van penisnavorsing.

Familielede wil nie hul geliefdes sonder ’n penis graf toe stuur nie, het Van der Merwe destyds aan Netwerk24 verduidelik. Maar hy het ’n merkwaardige verhaal van ’n boer maak ’n plan, wat weldra deel van ’n medies mylpaal geword het, aan die joernalis Willemien Brümmer vertel. Brümmer skryf: “Die groot deurbraak vir (die penis-ontvanger) het gekom tydens een van André se nagtelike drafsessies van sy huis in Loevenstein in die noordelike voorstede. ‘Ek het gehardloop tussen Durbanville se hoofstraat en die Engengarage en ek het geworstel met wat ek moet doen om ’n skenker in die hande te kry, en toe besef ek skielik ek moet vir hulle ’n nuwe penis maak.’ Van der Merwe verduidelik die kentering wat gevolg het: “Ná die deurbraak het ons die navorsingsprotokol verander en vir familie begin vra of hulle die penis sou skenk, maar ons sou iets maak wat soos ’n penis lyk waarmee die skenker begrawe word. Omtrent die vierde pasiënt wie se familie ons daarna gevra het, het toe ingestem.” In die oë van die familie het dié benadering die skenker se waardigheid herstel.

Die instaan-penis vir die skenker is uit vel van die laer abdomen gemaak.

Oorplanting-eerstes:

BRON: http://www.liveonny.org

En skielik was die deurslag nader

 

Toe die orgaan van die skenker geoes is, is die hele penis versigtig gedissekteer om bloedvate, senuwees en ander koppelingstrukture heel te hou. Dit is noukeurig gemerk en 10 ure later in die oorplanting aan die ontvanger se ooreenstemmende weefsel geheg, luidens ’n 2015-verklaring deur die hospitaal.

Dié pasiënt was al 21 toe die oorplanting uiteindelik op hom gedoen is en sy identiteit word weerhou word om sy privaatheid te beskerm.

Die chirurge het drie bloedvate geheg, elk tussen 1 mm en 2 mm in deursnee, om te verseker dat daar genoeg bloedvloei na die oorgeplante orgaan is, twee dorsale senuwees, ook tussen 1 mm en 2 mm in deursnee, om sensasie te herstel, die uretra wat die ontvanger in staat stel om deur die penis te urineer, en die korpus cavernosum, wat die pasiënt in staat stel om ʼn ereksie te kry.

Nuwe penis en al was die lewe egter steeds ’n wipplank-rit vir die ontvanger. In Junie 2015 is bevestig dat die man se vrou swanger geraak het, maar in Desember 2015 het hulle die baba verloor. In dié jaar het hy ook weer in die hospitaal beland nadat hy vir ’n paar dae sy medikasie verkeerd geneem het, het Netwerk24 vroeër berig.

 

Ander opsies

 

Huidige chirurgiese opsies vir pasiënte sluit in ʼn vryflap-penisrekonstruksie. Vir dié operasie word velweefsel van die arm geneem, in ʼn penis gerekonstrueer, en dan aan die liggaam geheg. ʼn Prostese kan ingeplant word om seksuele omgang moontlik te maak, maar dit is duur (sowat R100 000) en komplikasies kan ontwikkel. ʼn Pasiënt kan nie natuurlik voortplant met ʼn gerekonstrueerde penis nie – maar met ʼn oorplanting is dit wel moontlik. – BRON: Fakulteit Geneeskunde en gesondeheidswetenskappe, US.

Intussen, in Amerika, word Thomas Manning op in Mei 2016 die tweede man ter wêreld wat ’n penisoorplanting kry, luidens ’n verklaring van die Massachusetts-hospitaal. Manning (64) se penis is geamputeer weens kanker.

 

Etiese en sielkundige uitdagings

 

Orgaanoorplanting verg nie net suiwer mediese oorweging nie en Van der Merwe het die penisoorplanting as ’n “etiese mynveld” beskryf.

“(Ons was) baie bewus van die potensiële bykomende risiko wat gepaard gaan daarmee om iemand anders se penis te ontvang wat betref ego-konflik en ontwrigting van die selfbeeld,” het hy en ander geskryf in ’n oorsigartikel in die vakjoernaal Journal of Materials Science: Materials in Medicine wat op 10 Januarie vanjaar aanlyn gepubliseer is.

“’n Uitkringeffek op die ego is al voorheen beskryf en word geassosieer met die baie groot en werklike gevaar dat dit toe psigose kan lei.”

Die US het reeds met die eerste oorplanting sy etiese benadering as volg verduidelik: ’n Ondersoekspan het proaktief alle etiese aspekte van die studie hanteer en het in 2011 etiese goedkeuring van die Universiteit Stellenbosch se Etiese komitee vir gesondheidsnavorsing (GNEK) gekry vir die studie. Hulle het deur die loop van die beplanning asook met die uitvoer van die studie nou saamgewerk met etiese kenners en die GNEK.

Maar mense blyk taamlik onbewus van hul naasbestaandes se wense te wees. Altesame 23% wit mense en 32% swart mense het in ’n opname onder 2 125 mense, volgens dié studie gesê hulle sal nie hul geliefdes se organe skenk nie. Oor hul eie organe het hulle basies dieselfde gevoel, omdat dit “teen my geloof is”, “ek kan net nie met dit saamstem nie” en “ek wil niks verwyder hê nie”.

Intussen gaan dit goed met die tweede oorplantingspasiënt. Hy sal binne ses maande die volle funksie van sy penis hê.

Die uitdaging vir Van der Merwe en sy span is groter. Daar is die koste van sowat R250 000 vir die operasie en die lewenslange immuniteitsonderdrukkers wat die ontvanger moet kry.

En, deurentyd, die uitdaging om skenkers te kry.

“Dat hierdie operasie in die eerste plek nodig was, is ’n tragedie. Ek sien gewoonlik gevalle van gedeeltelike of algehele amputasie in Julie en Desember – die tydperke waarin tradisionele besnydings gedoen word,” sê Zarrabi, uroloog en lid van die oorplantingspan.

Elsabé Brits

Le Roux Schoeman

Rudi Louw

Kliek hier vir meer

Intussen, in Amerika, word Thomas Manning op in Mei 2016 die tweede man ter wêreld wat ’n penisoorplanting kry, luidens ’n verklaring van die Massachusetts-hospitaal. Manning (64) se penis is geamputeer weens kanker.